As jou BAGASIE te veel is…


Dis jou droom om in Venesië te wees. Jy wil graag teen skemeraand ’n gondelvaart beleef met die man wat romanties met ’n roos in die mond die gondel stuur. Dan haal hy die roos uit sy mond en gee dit vir jou en begin in ’n Italiaanse tenoorstem vir jou (en jou liefdesmaat) sing ook. So romanties.

Toe ons in helder daglig ’n paar jaar gelede in ’n gondel daar op een van die kanale vaar, het dit fynweg begin reën. Almal pluk vinnig die plastiekreënjassies oor. Die een vrou sê ewe droog: “Ek het al die jare uitgesien na hierdie romantiese vaart en nou sit ek met ’n vullissak oor my kop in die reën!”

Toe ons verlede jaar weer ’n draai in Venesië maak op pad na ’n bootvaart tussen die Griekse eilande en Kroasië, het ook iets gebeur wat anders was as wat ons verwag het. Ons is so opgewonde dat ons op die eiland self gaan bly. Maar die taxi-boot laai ons op die verste aflaaipunt af. Ons moet ons tasse ’n ver ent sleep.

Tog eienaardig hoe swaar ’n tas word as jy bruggie op en bruggie af begin sleep. Ek het nooit besef Venesië het so baie bruggies oor kanale nie. Ek sleep vinnig vooruit om by die hotel te kom en terug te draai om die seniormense te gaan help. Toe moet ons ’n eienaardige draai maak waar net trappe is. Ek dra my tas oor. En help die dames met hulle s’n. Iemand het egter 10 jaar se spaarbussies met die geld nog binne-in ingelaai. Kyk, ek kreun nie sommer nie. Net as 10 jaar se spaarbussies oor ’n aantal trappe getel moet word. Ek was nie by toe daardie tas ingeweeg is nie, maar wou sê die vliegtuig het al na die een kant toe gehang…

Die volgende dag was beter, want toe kon ek portiers reël om die tasse op hulle trollies na ons taxi-boot te neem.

Dit het my laat wonder of ons nie in elk geval te veel bagasie saamneem nie.

Ek het onlangs in Blanco gepreek en ’n praatjie gelewer by hulle tafelgesprekke. Dit was ’n heerlike ervaring by ’n wonderlike gemeente. Toe Wilma met ons terugkeer haar tas oopmaak, sê sy: “Ek het genoeg klere saamgeneem dat ons nog ’n week daar kon bly in plaas van net twee dae.” My tas het ook so gelyk. Ons het ingepak vir alle moontlike seisoene.

Toe ons (in my kinderjare, baie jare gelede) al drie kinders saam met ons ouers na Durban reis in ’n kleinerige Datsun, het my ma ons geleer om só in te pak: “Een in die kas, een aan die bas en een in die was.” Dit was die geheime formule vir minder bagasie saamneem. Ons ander vriend het weer gesê: “Pak al die klere en goed wat jy wil saamneem op die bed. Ook jou hopie geld. Dan verminder jy al die klere en goed met twee-derdes en jy vermeerder jou geld met twee-derdes!”

Ek is bevrees ons dra net te veel bagasie van die verlede saam.

Ons pak ons lewenstasse vol blamering, vol seer oor dinge van die verlede wat skeefgeloop het, vol onvervulde verwagtinge, vol teleurstelling in mense van wie jy meer verwag het en allerhande negatiewe herinneringe. Of ons pak ons lewenstasse vol met hoopvolle verwagtinge dat die goeie verlede net herhaal moet word sodat dit nóg beter kan wees. Maar dit wil ook nie uitwerk nie; dit maak ons tas net te swaar.

Drie gedagtes rondom hierdie onnodige bagasie van die verlede het in my gedagtes opgekom:

Een: As dit seer en herinneringe is wat op obsessiewe wyse bly vassteek, moet ’n mens ’n professionele persoon gaan sien om die bagasie deur te werk. Of ten minste ’n vriend wat regtig ontfermend na jou luister en perspektief kan gee.

Twee: Soms is dit net nodig om vanuit ’n ander perspektief na dieselfde bagasie te kyk en jou vraag anders te formuleer. In plaas van te vra: “Hoekom moes dit of dat gebeur?” of “Hoekom kan dit nie weer so lekker wees nie?” kan dit perspektief bring om vir Jesus te vra: “Waarom móés dit gebeur? Wat is die goeie wat ek hieruit geleer het? Watter nuwe geloofsoortuiging en beginsels en gewoontes kan ek vorm wat my nou verder vorentoe gaan help?” Baie van die goed wat met ons gebeur het, help om ons karakter beter te vorm en ons te laat fokus op die regtig betekenisvolle soort sukses.

Drie: Soos met ’n toer wil ons inpak wat pas by daardie bestemmings. Dit kos eerlik kyk na watter visie en waardes, gewoontes en gedrag, ons EERSTE in ons lewenstas moet pak om nou reeds só te leef. Dis tog hoe ons wil wees as ons aan die ander kant kom, hoekom dit nie nóú al uitleef nie?

Die wyse Paulus het al opgemerk: “…Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is” (Filippense 3:13).

So: Wat gaan jy vandag inpak, of eerder aanpak wat jou nader gaan neem aan jou werklike beter toekoms?

Geseënde Paasfees!


WONDERLIK: Nadat ek hierdie stuk geskryf het, kom ek af op hierdie ouens se video – hulle help verstaan vir hierdie bagasie is daar hulp!


TOERNUUS: Ons toer in 2019 se eerste mense het reeds ingeskryf! . Behalwe vir die meer tyd om te spaar, sluit dit nou PETRA in Jordanië in, asook ISTANBUL in Turkye saam met die belewenisse in Israel. Ons vertrek DV Woensdag 20 Maart – Saterdag 30 Maart 2019. Stuur e-pos na jannie@jannieleroux.co.za vir meer besonderhede.


** As jy weekliks hierdie INSPIRASIE-nuusbrief wil ontvang, teken hier in, asb. Dit sal goed wees as jy hierdie e-posadres onder jou “Contacts” sal “save”, want dan verseker jy dat dit nie in die “Trash” of “Spambucket” verdwyn nie.

** Indien jy die vorige INSPIRASIE nuusbriewe gemis het, lees dit hier:

***Jy mag dit “Share”, nooi asb. die persone om in te skryf op hierdie Inspirasie!